Daar is min dinge wat my so sleg laat voel oor my eie ma-wees, soos ʼn preek oor ouerskap. Gisteraand luister ek weer so preek op ons gemeente se Facebook-blad, met die hoop dat die saad sal val en sal opkom as ʼn welige boom waaronder my kinders kan skuil.
Die tema is die mag van die tong… ek wil sommer na die eerste minuut afsit en eerder met ʼn boek en ʼn glas wyn in die bad gaan lê, want alhoewel ek my bestaan uit woorde maak, ontbreek die regtes my die meeste van die tyd. Ek luister tog hoe ons gemeente se kinderbediening-leier uit Jakobus 3 voorlees. Jakobus vergelyk die tong met twee stuurmeganismes, een ʼn stang in ʼn perd se bek, die volgende ʼn roer van ʼn skip.
En daar kliek iets binne my. Om ʼn ouer te wees, is om die kaptein van ʼn skip te wees. Dit is ʼn wonderlike vergelyking vir my aangesien ek niks van skepe weet nie, net soos ek eintlik niks van ouerskap weet nie…
Maar van die bietjie wat ek wel weet, kan ek hierdie volgende vier stellings oor ouerskap maak.
- Soos Joe Black tereg sing, is ʼn skip nie gebou om in ʼn hawe te bly nie. Ek het dit net weer besef tydens die grendeltyd, kinders is nie gebou om stil te sit en niks te doen nie. Hulle wil op dakke klim, gevaarlike “ramps” vir fietse bou. Hulle soek die water onder hulle boeg. Ek kan ook hier byvoeg, dat geen skip die oop waters invaar, sonder ʼn eindbestemming nie. In die hawe kry dit genoeg brandstof, ʼn reisplan, koördinate om sy vrag, of dit passasiers of karre is, veilig te besorg.
- Storms op die oop see is gewaarborg, nie eers toe Jesus saam met sy dissipels in die bootjie was kon hulle ʼn storm verhoed nie. Die lewe gaan groot golwe oor jou skippie gooi, hy gaan sterk winde stuur, storm waters. Jou skippie gaan soms geen ander keuse hê as om sy seile te laat sak en te wag vir die storm om oor te waai nie. Niks wat jy as ouer doen kan dit verhoed nie, jy kan egter seker maak jou skip is reg vir wat ook al die see op sy pad bring. Soms doen jy dit met gesonde kos en ʼn gesonde leefstyl. Soms doen jy dit met dissipline en straf. Maar meeste van die tyd doen jy dit op jou knieë want Jesus is bekend vir sy vermoë om die storm stil te maak.
- Jy is die kaptein van hierdie skip. Jou woorde stuur jou skippie – selfs jou tiener-skip. Jou liefde is die enjin of die seile wat dit dryf. Goed, lees die vorige sin weer – maar hou hierdie keer die eindbestemming en die vrag wat afgelewer moet word ingedagte. Jou kind is gebore met ʼn doel op aarde – een wat uniek is en eie aan hom of haar. Iewers by ʼn hawe in die toekoms staan iemand en wag vir hierdie vrag wat jou kind gaan bring. Ons woorde moet ons kinders rig. Die hemel weet ek sukkel soms om nie te sê wat ek dink nie, maar ek bly bid dat alles wat oor my lippe kom, my kinders op die regte koers sal hou – en ja, soms moet ek sê ek is jammer. En soms moet ek sê ek stem nie saam nie. Maar ek hou aan om hulle aan te stuur met my liefde – dit weet ek darem het ek in oormaat en ek weet as ek ooit nie genoeg het nie, sal God se Liefde die tekort bedek. Dit is daardie liefde wat hulle dra. Ek het onlangs albei my ouers in ʼn kort tydjie verloor en ek besef nou eers, hoe sterk hulle liefde was – dit gee my selfs nou krag en dryf my elke dag. Dan is daar die punt rondom Kaptein wees. Ek wens soms ek kan net een van die matrose wees. Dat ek myself blind en dom kan hou. Dat ek net saam kan speel en lag (iets waarmee my man baie goed is), maar ek besef telkemale dat ek in die bevoorregte posisie is om die kaptein van hierdie skip te wees. As my skippie op sy eindbestemming sy of haar vrag aflewer, gaan niemand my prys vir hoe goeie kaptein ek is nie, maar ek bly aanspreeklik vir die veiligheid van die skip en sy vrag.
- Laastens, die skip behoort aan ʼn Maatskappy en die kaptein is in diens van daardie Maatskappy. Die Maatskappy sorg dat die beste span die skip in stand hou, die Maatskappy sorg dat die skip met die beste tegnologie toegerus is en die Maatskappy sorg dat die regte Kaptein aangestel is (as jy dalk gedink het jy is nie die beste ma wat jou kinders kon hê nie – dink weer.) Die Maatskappy se Naam word op die skip aangebring sodat almal kan sien aan wie dit behoort en as die skip in gevaar is, stuur die Maatskappy ʼn reddingspan. Jou kind behoort aan die Skepper van die heelal. Die God van Noag – die arkbouer. Jy is in diens van hierdie God wat storms stil maak en op water loop.
Ja, jy is die kaptein en jy het ʼn bitter groot verantwoordelikheid. Dit is okei om soms die skip in die hawe te hou, onder jou vlerk waar jy weet jou skippie is veilig. Dit is immers waar jy die skip voorberei vir sy reis en waar sy vrag gelaai word – jy moet net weet wanneer om die skip weer uit te stuur.
Ek wil afsluit met die gedagte, in die groter prentjie is jy maar ook net ʼn skip met ʼn vrag wat veilig die ewigheid ingevat moet word. Ek glo, met my hele hart, dat sodra ons ouers word, God die roer as Kaptein oorneem. Sy woorde stuur jou en Sy liefde dryf jou. Hy word ook die hawe waar jy kan rus en heel kan word sodat jy jou vrag met sekerheid kan dra en die oop waters met moed kan aandurf.