Ek het al talle male in my lewe pleitend voor die Here gestaan en gesmeek vir dinge. Ek was al geseënd genoeg om te sien hoe my gebede verhoor word, maar ek moes al male sonder tal aanvaar dat my wil nie noodwendig ooreenstem met God se wil en plan nie. Moenie, my verkeerd verstaan nie, ek kan saam met Garth Brooks die Here dank vir onverhoorde gebede, omdat ek weet dat Sy plan vir my met Liefde deurdrenk is en dat Hy alles in my lewe met daardie maatstaf afmeet.
Tog hou ek steeds my hart vas as my kinders Hom so onbeskaamd en sonder enige teken van twyfel vir iets vra… Hulle is so seker dat hulle gebede verhoor gaan word. Dat wonderwerke kan gebeur. Dat Hy altyd luister. Dit is seker hoekom die Woord vra dat ons soos kinders glo, want as grootmens is dit regtig nie maklik nie.
2016/2017 was nie vir die Potgieters ʼn goeie tyd nie. Ons het albei my ouers verloor, my man is onbillik ontslaan by sy werk en ons moes baklei vir regverdigheid. Te midde van hierdie storms wat besig was om te woed om ons koppe, moes ons ons geliefde oudste viervoet laat uitsit. Ané, my oudste, se hart was stukkend en dit het haar ʼn hele ruk gevat voor sy weer op die punt gekom het wat sy gevra het of sy asseblief maar weer ʼn hond mag kry.
Hier moet ek net eers byvoeg, dat ons op daardie stadium steeds drie honde op ons erf gehad het. Drie reuntjies. Tog wou Ané vreeslik graag ʼn Boston-terriër gehad het…
Ons het baie mooi aan haar verduidelik, dat indien ons ooit ʼn hond sou kry, moes dit 1) Nie meer ʼn baba wees nie, want ʼn baba gaan in die swembad val en verdrink as ons nie by die huis is nie. 2) ʼn Dogtertjie wees, want die seuntjies op die erf baklei reeds te veel. 3) Sy sou reggemaak moes wees, want anders sou daar baie vinnig baie hondjies op ons erf gewees het.
Een aand aan die begin van Oktober, vra Ané dat ons saam met haar bid. Sy begin deur die Here te herinner aan haar verlies. Eers haar oupa, toe Bronx (ons spanjoel) en toe ouma. Op daardie oomblik is ek reeds tranerig, maar haar volgende woorde het my hart gebreek. Sy het gebid: “Here, ek wil asseblief ʼn hond vir Kersfees hê, een wat myne is. Wat ek kan vashou as ek hartseer voel, saam met wie ek kan speel en wie saam met my in my bed kan slaap. Here, dit moet ʼn groot dogtertjie-hond wees, wat reggemaak is. En Here, laat dit ʼn Boston-terriër wees. Amen. “
Ek en my man het vir mekaar gekyk en ons albei het geweet dat hierdie kind haarself oopgestel het vir ʼn groot teleurstelling. Ons het probeer verduidelik dat ʼn mens nie sommer so hond sal kan kry nie, maar sy het geglo dat God haar gebed sal verhoor.
Ek het al vergeet ek behoort aan die Facebook-groep Boston Terriër Rescue Assosiation toe ek die 23ste Desember 2018 Facebook op my foon oopmaak. Die eerste plasing wat verskyn vang my aandag, die einste groep waarvan ek al vergeet het, het ʼn foto van die mooiste teef gedeel wat dringend ʼn huis soek. Ek vra dadelik van waar hulle is. Ek het skaars die woorde getik toe daar ʼn boodskap op my foon kom van Annika Smith, my voorkeur fotograaf se vrou. “Didi, dit is ek wat die foto geplaas het, sal julle belangstel?”
Ek wys toe vir my man die foto en hy begin die belangrike vrae vra. Hoe oud is sy? Twee jaar. Is sy reggemaak? Ja. Is sy gewoond aan ander honde? Ja. Dit het nie baie oorreding gekos vir hom om ja te sê nie, maar die aand, toe ons twee rustig raak sê hy vir my: “Didi, jy weet dit is steeds ʼn risiko? Sê nou sy pas nie aan nie. Sê nou net die hond hou nie van Ané nie?”
Ek het my oë toegemaak en gebid: “Here, U het ons so ver gebring, ek vertrou U.”
Aldus en Annika sou Sindy die 25ste by ons kom aflaai het, maar op die 24ste (die dag wat ons geskenke uitdeel), het sy gevra of hulle die woef maar die middag kan bring. Ons het geskenke uitgedeel en ek het vir Ané gesê dat haar groot geskenk deur Takealot afgelewer sou word… Net na vier, stop die kar voor ons hek en die mooiste Boston klim uit. Bang en onseker. Ek gaan hurk dat sy na my toe kom, maar langs my hurk Ané en die hond stap reguit in haar arms in.
Ek hoor hoe my dogter saggies in die hond se oor fluister: “Ek het gebid vir jou” en ek kry skaam vir my eie ongeloof. Op die dag wat ons Jesus se koms aarde toe vier, het die Here my kom wys dat Hy die God is wat ons die begeertes van ons hart gee en dat Hy luister na elke woord van elke gebed. En nou nog, as ek Sindy saam met Ané in die bed sien lê en die liefde tussen hulle beleef, herinner Hy my dat ek net moet vra en glo dat Hy elke woord hoor…