Wie is Didi Potgieter

SKRYWER:  Vandat ek kan onthou skryf ek liefdesverhale in haar kop, maar ʼn finalejaarsopdrag het my gedwing om dit op papier te waag. So het Leer my Liefhê, my heel eerste Romanza die lig gesien. Met ʼn man, twee kinders en die verantwoordelikheid van brood op die tafel sit, was my program  oorvol en tyd vir skryf maar min. Tog het die stories en die karakters bly opduik en aan die begin van 2017 het ek besluit om voltyds te begin skryf.

DROMER: Ek glo dat as ‘n droom jou nie bang maak nie, droom jy nie groot genoeg nie. My mening is ook dat die lewe eenvoudig te kort om nie die kans te vat nie en met soveel onvertelde stories nog in my kop en hart, droom ek daarvan om van my loopbaan as liefdesverhaalskrywer nog  ʼn groot sukses te maak. Daar is ook nog soveel plekke wat ek sal wil besoek en geleenthede wat ek wil aangryp. Vir nou gee ek een tree op ‘n slag, met hierdie drome op die horison. 

BOEKWURM: My liefde vir die genre waarin ek skryf, het nie op universiteit begin nie, maar as klein dogtertjie voor my Ouma se boekrak. Stories deur Ena Murray en Schalkie van Wyk het nie net my hart nie, maar ook my verbeelding aangeryp en toe ek  ‘n genre moes kies waarin ek ‘n storie van my eie moet skryf, was dit die voor die hand liggende keuse. Dit is egter nie al wat ek lees nie – ek is mal oor sielkundige rillers en goeie ou speurverhale. Om te sien wat ek tans lees, gaan volg my gerus op Goodreads. 

KOFFIEPOT: Almal wat my ken weet dat daar beslis koffiebone met die 70% water in my liggaam gebrou word. Ek is mal oor ‘n ekstra warm latte en die atmosfeer wat ‘n goeie koffiewinkel vir ‘n skrywer bied. As jy my op Instagram volg, sal jy weet dat ek gereeld my #koffiekiekies deel.