Die name van God

Die name van God

As ek myself voorstel, begin ek gewoonlik met die volgende: “Hallo, ek is Didi.” Dit is ʼn baie eenvoudige sin, maar in die stelling is daar ʼn hele lewe opgesluit.

As daar een ding is wat ons regdeur die Bybel van God leer, is dit dat name vir Hom belangrik is. Hy gee aan Sy mense name, maar Hy verander ʼn hele paar daarvan, om by Sy storie in te pas. Die eerste twee mense wie se name so merkwaardig verander is, was Abram en Sarai, wat nie dadelik glo het dat God hulle onvrugbaarheid kan oorkom nie. God doen egter baie meer as om net hulle omstandighede te verander, Hy verander hulle name. Abram word Abraham, wat die vader van vele beteken en Sarai, word Sarah – God se prinses.

Na Jakob se ontmoeting met God, verander sy naam na Israel. Hierdie naam is nie net ʼn belofte nie, maar dit is die begin van ʼn baie belangrike keerpunt in Jakob se lewe, maar ook met God se verhouding met Sy volk. Daar is ook Simon Petrus, en laat ons nie van Saulus die vervolger vergeet wat Paulus die apostel word nie.

Min mense weet dit van my, maar Didi is nie my doopnaam nie. Dit is nie eers afgelei van een van my twee doopname nie. Dit is ʼn naam wat deur iemand spesiaal vir my gegee is toe hy drie was en my boeties hom belet het om my sussie te noem. My pa het altyd gespot en gesê dit vat my twee keer langer om uit te pluis watter geur roomys ek voor lus is, of wat ek wil aantrek omdat Didi en Etrecia albei eers ʼn sê moes hê. Hierdie week vier ons die eerste keer wat ek die naam ‘Mamma’ gekry het, wanneer my dogter Saterdag haar sewentiende verjaarsdag vier.

Maar die doel van hierdie blog is nie om te gesels oor mense se name en die betekenis nie, nee, ek wil graag praat oor die name van God, want ek glo die sleutel tot ʼn dieper verstaan van wie Hy is, lê in die name wat Hy Homself noem.

Daar is Jahweh die naam waarmee God Homself aan Moses en die Israeliete voorstel. Hierdie naam word meer as 6 800 keer in die Ou Testament genoem. Hierdie naam van God was so heilig is dat die volk dit nie buite die tempel mag gebruik het nie. Dan is daar Jehova Jireh, die naam wat Abraham vir God “gegee” en die plek na vernoem het waar hy vir Isak moes offer, want Abraham kon sekerlik nie sien hoe God hom ʼn vader van vele sou maak as hy sy enigste seun sou offer nie – maar Abraham het geweet Jehova Jireh is sy God en die Here het voorsien.

Dan is daar Jehova Nissi, die naam wat Moses God noem toe hy ʼn altaar vir die Here bou, want hy het geweet dat hulle (God se volk) nie op hulle eie die Amalekiete sal kan verslaan nie, maar dat God ʼn magtige vegter is wat voor hulle uitgaan en hulle vyande platvee. Deur die naam Jehova Nissi te gebruik het Moses verklaar dat God self die leier van hulle weermag was.

Daar is nog so baie name vir God, maar hier is nie in die blog plek vir my om almal te bespreek nie, al wil ek hoe graag. Tog wil ek graag nog een naam met julle deel – Elohim. Hierdie is nie ʼn bekende naam nie, of dit was nie vir my nie, tot ek Dit een oggend in ʼn profetiese woord oor my man gehoor het. Ek en die eggenoot bestudeer nou al vir langer as ʼn jaar die Name van God, maar Elohim het (om eerlik te wees) vir my leeg bly voel en ek was nogal teleurgesteld dat dit die Naam is waarmee die Here hom aan ons kom voorstel het.

Tot ek twee weke gelede ʼn preek geluister het oor die heiligheid van God, en hoe Hy die Skepper is, wat nie geskape is uit iets nie, maar nog altyd daar was. Wat almagtig is, nie net in wat Hy kan doen nie, maar in wat Hy weet, wat Hy beplan, wie Hy is…  en net daar, terwyl ek wasgoed ophang, snap my hart wat Elohim werklik beteken.

Elohim beteken my God is Heilig. My God het geen krag nodig om Hom in stand te hou nie, Hy het nie my raad en my advies nodig nie en my swakheid, keer nie Sy planne vir my nie.

Elohim beteken ook dat ek niks is sonder God nie. Hy is my Skepper wat my onderhou, wat my op my naam geroep het- my Syne gemaak het.

Elohim beteken Sy gedagtes is hoër as myne en as ek nie verstaan wat besig is om te gebeur nie, is dit normaal want ek is ʼn mens, Hy is God. Ek hoef nie te weet hoe lyk die pad nie, ek moet die Herder vertrou.

Maar meer as alles, beteken Elohim vir my dat selfs as ek nie weet hoe Hy gaan voorsien nie en al weet ek nie hoe ek die volgende veldslag gaan oorleef nie, kan ek rus onder die vlerke van die Een wat daar was voor plek en tyd. Die God wat uit niks alles gemaak het en toe nog gedink het, die wêreld het ʼn Didi nodig.

Die Dogtertjie – ‘n Gedig vir Ané

'n Gedig vir my dogter

Die klein dogtertjie in my kop

glo steeds dat sy drake kan verslaan

in haar pienk prinsesrok,

al weet die vrou wat ook daar staan

die gevaar skuil in gedagtes en goeie intensies

en dat die skerpste swaard, die woord nee is

en die draak net kan wyk as dit reg gebruik word.

Die klein dogtertjie in my hart

glo steeds aan vir altyd gelukkig saam

in die prins se paleis,

al weet die vrou met die kind se naam

dat sy elke steen van haar veilige vesting

self sal moet bou, met die klippe na haar gegooi

want dit is die enigste manier om sterk te word.

Die klein dogtertjie in my

het gedink vrouwees sal maklik wees

tot ek vrou geword het en ʼn dogtertjie gedra het in my buik

en besef dit is ʼn oorlog, ʼn geveg in die gees

om die vrou wat in die klein dogtertjie ontluik

toe te rus om eendag self te stry

vir elke deel dogter en vrou in haar kop en hart.

Aspoester

As jong dogtertjie was daar nie een enkele Disney-fliek wat ek nie gekyk en weer gekyk het nie. Soos elke ander jong meisie was daar een prinses wat my laat droom het en een prins wat my laat liefhê het.

Aspoestertjie was beslis nie daardie prinses nie… Daar is verskeie redes hoekom hierdie karakter my op my rype ouderdom steeds ʼn pyn in my alie gee. Snaaks genoeg,  die hoofrede het niks te doen met die feit dat sy blond is nie, die rede is: EK IS ASPOESTER!

Oornag het ek verander in die een prinses wat ek nooit wou wees nie. Die hemel weet ek het hard geveg teen die verantwoordelikhede van huis skoonmaak en wasgoed was. Maar ek bevind myself al hoe meer met die besem in die hand en die vadoek oor my skouer.

Daar is egter dinge in die oorspronklike sprokie wat nie in my lewe strook nie! Byvoorbeeld die muisies in my huis, weet nie hoe werk ʼn naald en gare nie. Indien een van hulle met ʼn nuwe T-hemp (branded nogal) plaas toe gaan en die ding skeur, is dit nou maar so. En moenie dink hulle stemmetjies is fyn, of dat hulle in sang uitbars as daar gewerk moet word nie – nee, ʼn oggend saam met my twee muisies laat jou eerder dink jy het nou met die stiefsussies te make.

Dan is daar die Fairy Godmother, in my geval is dit koffie en as sy te hard werk protesteer die gal en lewer en sommer die brein ook. Daar is nie meer glamorous rokke nie, want daar is nêrens om dit heen te dra nie en die glasslippertjies is heeltemal te onprakties vir ʼn ma van twee wat eendag lank lank gelede haarself belowe het om betrokke te wees by alles.

Wat my egter die meeste vang van hierdie Aspoester-bestaan is die stukkies van myself wat ek op ʼn fluweelkussing aan ander bied. Ek het vergeet hoe om nee te sê, hoe om logies na my dagboek en finansies te kyk en te besef dat ek net nie kan nie. Maar die ergste is die stukkies prinses wat wegkwyn onder die druk van hierdie bestaan. Ek het my inner-Belle wat wou lees en lees begin ignoreer, ou Aurora wat soveel slaap nodig gehad het, word tans onderdruk en die Ariël met haar verwondering oor ander wêrelde het nie ʼn stem nie…

Maar daar is moderne prinsesse. Daar is Merida in Brave wat kan baklei soos ʼn ma en Elsa van Frozen met die ontsagwekkende wysheid dat ons dit soms net moet laat gaan. Dalk in hierdie seisoen van my lewe sal ek identifiseer met hulle…

Tog is en bly my lewe ʼn sprokie, ongeag die begin, of hoe? En vanaand, as ek moeg die besem parkeer en die vadoeke in Jik laat lê gaan kruip ek agter my prins in en kan ek droom van die liefde wat Disney sou beny.