Wie is ek?

Wie is ek…

Ek moes onlangs my biografie opdateer vir ʼn nuwe pos wat ek beklee en iets binne my het geroer toe ek sien wat daar in swart en wit oor my geskryf staan. Dit was meteens vir my vreemd wat presies dit is wat volgens my, my identiteit bepaal het. Alles is tog waar… Ek lewe my hele lewe lank al op Potchefstroom, ek het ʼn man en twee kinders en ek skryf liefdesverhale in my kop vandat ek kan onthou…

Op my sosialemediaplatforms beskryf ek met hutstekens myself as ʼn #dromer, #koffiepot, #skrywer en meer onlangs #koffiehuisvlinder.

Al hierdie dinge is waar en seker wat ek sal sê as ek myself voor ʼn groot groep mense moet voorstel, maar ek het al hoe meer en meer begin besef dat hierdie hoekstene waarop ek my lewe opgerig het, nie juis standvastig is nie en dat dit vreeslik gevaarlik is om my identiteit daaraan te heg, veral as ek God se Roeping in my lewe wil uitleef.

En dit is die ding, vir ʼn baie lang ruk voel ek hoe God my uit my gemaksone roep. Ek sal in ʼn latere blog vertel oor my en God se gesprekke rondom Elia, maar ek kon die afgelope tyd agterkom hoe bly die kraaie weg en hoe die stroompie opdroog. Die probleem is net dat ek nie naastenby ʼn idee het waarheen God my roep nie…

Ek het in die woord gaan soek na moontlike leidrade, maar dit is eers toe ek daardie dag aan my biografie moes skaaf, wat ek begin besef het dat die antwoord dalk lê in wie God sê ek is en hoe Hy my aanmekaar geweef het in my moederskoot.

Ek het egter agtergekom dat God niemand se identiteit of roeping daar stel sonder om eers ʼn duidelike uiteensetting te gee van wie Hy is nie. Hier wil ek stilstaan by Matteus 16: 15 – 19:

15 “Maar julle,” het Hy gevra, “wie, sê julle, is Ek?”

16 Simon Petrus het geantwoord: “U is die Christus, die Seun van die lewende God.”

17 “Gelukkig is jy, Simon Barjona,” het Jesus vir hom gesê, “want dit is nie ‘n mens wat dit aan jou geopenbaar het nie, maar my Vader wat in die hemel is. 18 En Ek sê vir jou: Jy is Petrus, en op hierdie rots sal Ek my kerk bou, en die magte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie. 19 Ek sal aan jou die sleutels van die koninkryk van die hemel gee, en wat jy op die aarde toesluit, sal in die hemel toegesluit bly; en wat jy op die aarde oopsluit, sal in die hemel oopgesluit bly.”

 Dit is vir my opvallend dat Jesus eers vir Petrus gesê het wie hy is, nadat Petrus vir hom kon sê wie Jesus is. Ek dink dit is omdat Jesus geweet het dat ons identiteit en ons roeping niks beteken as ons nie weet wie God is nie.

Verlede week is my oudste deur ʼn groot teleurstelling. Dit was moeilik vir my, nie net omdat ek weet hoe hard sy daarvoor gebid en gewerk het nie, maar omdat ek self daaroor gebid het en so magteloos gevoel het toe ons die “nee” ontvang. Die waarheid is egter dat God in Sy woord sê dat Hy alles ten goede laat meewerk vir die wat in Hom glo en wat GEROEP is volgens Sy wil… God se roeping oor Ané se lewe was groter as ʼn mensgemaakte, aardse titel en ek as ma kan net vashou aan wie God nog altyd was.

Ek is baie maal nie seker of ek die roeping wat God op my lewe het, sal kan uitleef nie. Ek kan immers aan so baie verskonings dink soos tyd en geld en kennis, maar oor die naweek het God Eksodus 3: 14 vir my oopgebreek. God het homself aan Moses geopenbaar in die brandende bos en ʼn moeilike opdrag vir hom gegee. In Moses se oë was hy nie die aangewese persoon vir die werk nie… Moses het dus baie gevoel soos ek oor die saak. Tog wys God se antwoord aan Moses dat dit nie vir hom gaan oor wie Moses is nie, maar oor Wie Hy is. God sê vir Moses dat hy na die Farao toe moet gaan en vir hom moet sê dat EK IS hom gestuur het. Want God IS almagtig. God IS genadig. God IS heilig. God IS genoeg en Sy krag kon juis tot volle werking in my wanneer ek swak is.

Ek het nog nie al die antwoorde oor waarheen ek op pad is nie, ek weet egter EK IS rig my pad. Ek weet nie waarom ek hier is nie en waarom slegte dinge met goeie mense gebeur nie, ek weet egter EK IS weet wat Hy vir my beplan, voorspoed en nie teëspoed nie.

Oor my identiteit weet ek EK IS noem my Sy kind en al weet ek nog nie met sekerheid wat in die volgende weergawe van my biografie gaan staan nie, weet ek dat ek niks is, sonder Hom in my lewe nie.