Die Ribbebeenteorie

 

Vir my romantiese hart bly die storie van die slapende Adam vir my een van die mooistes in die Bybel. Ek kan my die oomblik verbeel wat hy wakker geword het en hier staan sy voor hom – Eva. Natuurlik is sy die mooiste ding wat hy nog ooit gesien het en klop sy hart skielik hard teen sy ribbekas. Dit is dan wat hy afkyk en besef alles is nie soos dit was nie. Een van ribbes wat sy hart en longe binne sy lyf moes hou, is weg…

Selfs hier en nou na ek al meer romanses gelees het as wat ek kan onthou, sug ek sag en tevrede, want ten spyte van alles wat later verkeerd geloop het, het hierdie eerste ontmoeting die heelal verander.

Dit is die een rede hoekom ek besluit het op die naam Die Ribbebeenteorie.

Ek glo nog my lewe lank dat God voor elke vrou se geboorte reeds weet wie haar lewensmaat is. Om te verseker sy beskik oor net die regte verhouding elemente om haar ideaal te maak vir hom, gebruik Hy steeds die outjie se rib… Ek weet, ek trap nou op so baie feministe se tone, en vergewe my dit – ek insinueer geensins dat ons ondergeskik is aan ʼn man nie, ek glo net dat ons vroue elkeen iemand se ribbebeen is en dat hy nie heel sal wees voor hy haar nie terug in sy lewe het nie.

Dit is egter nie die enigste rede hoekom ek Die Ribbebeenteorie gekies het nie – ook nie die grootste nie. Die eintlike rede vir my keuse is die onvoltooide manuskrip wat al van my Standerd Sewe-jaar in my rekenaar (verskeie oor die jare) se geheue gestoor is.

Ek glo nie die manuskrip sal ooit voltooi wees nie. Die basiese storielyn is nie baie goed nie. Dit is immers elke keer die vertelling van my liefdeslewe op daardie stadium. As getroude ma van twee dink ek nie daar gaan binnekort interessante twists in my plot kom nie.

Tog sal ek dit nooit uitvee nie. Daarin is eenvoudig te veel skatte vervat.

As deel van die storie vertel die heldin, Trishia (my doopnaam is Etrecia) telkens die ware liefdesverhale wat haar in die Ribbebeenteorie laat glo… Dit begin met die storie van hoe Adam en Eva mekaar ontmoet het natuurlik, maar sy vertel van hoe my ma en pa verlief geraak het. Hoe my oupa agter my ouma aan gevry het. Selfs hoe my skoonpa kilometers op sy fiets agter my skoonma aangery het. Alles is regte verhale, wat so mooi is dat ek nie eers die plot hoef in te kleur nie.

Ek en die lewe wat ek vandag het, is ʼn vrug van alles wat gebeur na die gelukkige “slot”. Want die laaste woorde in ʼn romanse is immers nooit die werklike einde nie.

My doel met Die Ribbebeenteorie is om van hierdie stories en dinge met julle te deel en tussendeur staaltjies uit my eie liefdesverhaal.

Ek hoop julle geniet dit net soveel soos ek.

Save

Save