Vir sewe maande is ek soos een wat in ʼn waas ronddwaal en nie heeltemal wakker word nie. My Nuwejaar het in die hospitaal, langs my ma se siekbed begin. Ek het letterlik van dag tot dag en toe van uur tot uur begin lewe. Twaalf dae na die vuurwerke en die sjampanjeproppe geskiet is, het die Here my ma kom haal.
Meteens was ek ‘ʼn weeskind en ek het presies twaalf ure gehad om soos een te voel, want toe moet die begrafnis gereël word en die familie moet getroos word en die skool moes begin. Die eerste kwartaal was ʼn skok op my sisteem – my oudste is gekies as hoofleier (en almal wat weet besef nou presies hoekom hierdie my eerste plasing vir die jaar is!). Ek wou onmiddellik my ma bel en die nuus met haar deel, talle male daarna haar bel en advies vra, maar die hemel het nie telefone nie…
Ek kan letterlik van hier af boeke skryf oor terugslae en uitdagings. My lemoenboom het ʼn pes opgetel en begin vrek, my kar het gebreek en niemand kan reg raai oor wat fout is nie, my man is blatant geviktimiseer by die werk wat die toekoms bitter onseker maak en my nuwe laptop vries ten minste een keer per dag behoorlik. Asof hierdie bagasie nie swaar genoeg is nie, breek my koffiemasjien toe wragtig ook.
Net daar gaan sit ek toe op die trappie in my kombuis en gee myself oor aan die selfbejammering wat vir maande in my opbou. Ek beleef weer elke terugslag en teleurstelling soos die oomblik wat dit op my pad gekom het en ek wens met my hele hart en siel weer dat ek my ma kon bel – nie om my kant van die saak te stel en my hart uit te stort nie, maar om haar stem te hoor sê dat alles okey gaan wees, dat hierdie ook sal oorwaai.
Terwyl ek die trane maar vrye teuels gee, kom die volgende gedagte uit die bloute by my op: Is dit hoe Eva gevoel het die eerste aand toe sy en Adam buite Eden gestaan het en moes kyk hoe die Engele se brandende swaarde keer dat hulle terugkeer na die bekende? Die paradys so naby, maar so ongelooflik ver? Wou sy ook net vir oulaas met God praat, uit sy mond hoor dat alles reg sal uitdraai, wou sy dalk vra dat Hy net die hele pyn-ding moet heroorweeg?
Getrou aan my geaardheid, soek ek toe in my oomblik van wanhoop, die lig aan die einde van die tonnel… ek het dit egter nie gesien op die grond waar ek gesit en huil het nie. Ook nie toe ek opstaan en met aandete begin nie. Nee, die lig word toe wonderbaarlik sigbaar toe my vriendin haar troufoto’s wat my dogter geneem het, kom haal.
Hierdie lig waarna ek opsoek was, is toe nie aan die einde van die tonnel nie, maar in die tonnel om my. Dit is die woorde van vriendinne, hulle dade en opofferings wat die afgelope sewe maande lig op my pad gewerp het. Ek is nie Eva nie, besef ek toe ek aan my vriendinne dink. Ek is ʼn dogter van Eva en soos talle voor en saam met my, is ek op soek na ʼn manier om terug te kom in Eden.
Hierdie dinge waar deur ek gaan is nie ʼn straf omdat ek ʼn appel gehap het nie, maar meer ʼn bootcamp, vir ʼn roeping wat ek nog nie verstaan nie. ʼn Kragoefening sodat ek sterk genoeg kan wees om lig te maak vir die pad van die dogters ná my.
Ja nee, die engele in my lewe staan nie met swaarde voor die poorte om my toegang tot Eden te versper nie. Hulle is om my, hulle swaarde gerig op die vyande op my pad wat juis keer dat ek Eden raaksien. Hulle is gewone mense, mammas, besigheidsvroue, dromers met ongewone empatie en opregte simpatie. Hulle is vroue wat met ʼn glimlag (en ‘n koppie koffie of glas wyn) jou help dra aan jou las ten spyte van hulle eie opdraandes.
Dit is egter nie hulle hulp wat my gered het nie, besef ek toe ek die vonkel in my pasgetroude vriendin se oë sien. Dit is die feit dat hulle my toegelaat het om hulle las te dra. Dit is die wete dat hulle my met hulle seer vertrou en die feit dat ek in hulle vreugdes kon deel,wat gemaak het dat ek nog staan.
Ek soek nog steeds na Eden. Maar ek is nie meer bang vir die wag buite die hek nie, want ek weet ek is nie alleen daar nie. Selfs as my susters die aand na hul eie huise toe terugkeer om hulle eie drake te veg, gaan slaap ek steeds langs Adam – en vir nou is dit my paradys.
Dankie vir die lig wat jy op my pad gewerp het.
Tot volgende keer – hou aan soek na Eden.