Uit die mond van die boom – Stella

Ek en my eie persoonlike ridder was onlangs by ʼn konsert van ʼn uiters talentvolle nuwe Afrikaanse sangeres. Die hele vertoning lank was ons albei die ene hoendervleis! En toe begin sy te vertel van die boom in die Laeveld…

Vir ʼn week lank maal die spesifieke lied in my kop. Die konsep van as ʼn boom sou kon praat het my hart geraak en my gedagtes aan die gang gesit. Daar is bome in my tuin wat fantastiese stories sou deel. Die perskeboom in die verste hoek, sou vertel hoe my ouma in die somer elke oggend een van sy vrugte kom pluk het vir ontbyt. Die vyebome sou kon getuig van jare se gaste. Die enorme lemoenboom wat ʼn baba was toe ek Graad 1 toe is, sou kon vertel hoe ek grootgeword het. Ek sou egter nie sy storie sommer glo nie, aangesien hy nie altyd is wat hy voorgee om te wees nie (sy lemoene is suur in die winter, maar stroopsoet in die somer). Dan is daar die nuwe klein suurlemoenboompie by my  dogter se kamervenster waaroor ek gedroom het… Hy (of sy) sal vertel dat ons twee suurlemoenbome op presies dieselfde tyd geplant het, maar dat net een het oorleef het, die een wat ek in my droom sien grootword het sodat my dogter die geur van suurlemoenbloeisels kan ervaar elke jaar met haar verjaarsdag.

Gisteraand was hier ʼn yslike storm in ons dorp. ʼn Vriendin vertel vandag van die Wilger se tak op haar heining. Arme boom, het sy so terloops gesê. Ek het self op my agterstoep gestaan en bid vir elke klein appelkosie aan my geliefde boom en was vanoggend bitter dankbaar vir die manier wat die boom aan sy vrugte bly vasklou het – daar is immers niks soos tuisgemaakte konfyt nie…

Maar die dag het draaie geloop en ek het weer die woorde van die liedjie gaan luister.

Dit gaan nie oor daardie boom in die Laeveld waarvan Stella vertel het nie, besef ek toe. Dit gaan oor my ma, wie se liggaam afgetakel is deur die Groot K en die chemo wat sy kry om dit te beheer. Dit gaan oor die ou tannie in die rolstoel wie se dogter haar bederf met ʼn Mugg en Bean-melkskommel nadat sy dokter toe was.

Die eerste woorde wat hierdie waarheid aan my kon openbaar, sou seker die boom wees wat vertel hoe hy (of sy) eens die prag van die Laeveld was. My ma was stunning. Die tannie wat glimlag oor haar nuwe haarstyl, seker ook. Maar dit was eerder die reël oor die skuiling vir hawelose siele wat my twee maal laat dink het. Hoeveel keer was ek verdwaal en verdwaas en kon ek net in my ma skadu rus? Te veel om te tel. Die dogter wat geduldig die kombersie oor haar ma se knieë trek, seker ook.

My ma en die Tannie met die diep lyne is albei getuies van lewe en getuies van dood. Daar is wysheid in hul stamme, stories wat hulle al vergeet het. Hulle is duidelik albei geteister deur storms. Hulle moes veg om te kon klou aan hul vrugte. Hulle moes  ʼn tak of twee verloor. Hulle albei se liggame verklap dat hulle ook soos die boom in Stella se liedjie kan sê dat hulle laaste dag dalk net om die draai is… Tog gee hulle steeds elke dag wat hulle kan al is dit soos die Stella-boom soms net ʼn klein skadu.

Die treffendste deel  van die liedjie is egter die durf wat die ou boom, my ma en die Tannie deel. Ten spyte van chemo en die feit dat sy onlangs haar man verloor het, hou my ma dapper aan lewe. Leer nuwe dinge, koester weer ou vriendskappe. Die ou tannie, durf die mall aan vir ʼn melkskommel en ʼn uurtjie langer saam met haar dogter. Hulle sing dus ook soos die boom, dat hulle nog nie dood is nie, die winde kan kom…

Ek het net hierdie wysheid onder die knie, toe stop my ma by my en sê (in soveel woorde, sonder om te weet van my ding onlangs met bome) dat sy net so rukkie in my skadu wil kom rus… en ek is stom geslaan. Wanneer het hierdie klein stegie ʼn boom geword? Wanneer het ek gegroei van iemand wat toegedraai moet word met rypkleed tot iemand wie se takke skuiling kan bied teen ander se storms?

Ek weet nie. Maar skielik is dit so.

Miskien is dit omdat ek elke jaar bid dat my kinders sal wees soos bome wat geplant is langs strome van lewende water dat die seëning my beval het. Miskien is dit omdat ek net eenvoudig geplant is. Maar ek is nou die appelkoosboom wat moet vrugte dra sodat ander die soet in die lewe kan smaak. Dit gaan kook en suiker verg, maar dit gaan so wees. My ma het haar vrugte gedra en in haar oudag gun ek haar en die tannie in die rolstoel, dieselfde vrede wat die perskeboom in die hoek van die erf het… My dogter is die suurlemoenboom en ek weet haar geur sal ander gelukkig maak.

En as hierdie boom vanaand nog iets kon sê?

Wel, my wortels lê diep…