Die Beloofde Land

Maandagoggend ry ons skool toe. Die geskarrel om betyds klaar te maak en die spanning wat daarmee saam gaan, het ʼn onaangename smaak in my en die kinders se monde gelaat en nie een is lus vir geselsies maak nie, so ons laat die toeval maar kies watter liedjies ons na gaan luister tot ons elkeen weer kan asem skep.

Die Toeval kies toe Die Heuwels Fantasties se lied Die Beloofde Land. Die ritme lig sommer dadelik my bui en aan die manier wat my dogter dit harder sit, weet ek sommer hare ook. Die eerste woorde weergalm soos ʼn gebed in my kop: “Belowe my, die beloofde land.” My mamma-hart in daardie oomblik het gesmag na bevestiging dat ek op die regte pad is, dat al is daar ‘n woestyn soms om my, dat ek op pad is na die bestemming wat Hy oor my en die kinders en my huwelik gedroom het.

Dit is egter die volgende deel wat my gedagtes aan die gang sit: “Ek weet hoe dit voel om te vlieg, al ooit gewonder. Al ooit verdrink, word wakker dis môre.”

Sjoe.

Ek moet erken dat ek ook weet hoe dit voel om te vlieg. Om op so “high” te wees dat jy seker is die heelal is aan jou voete. Maar daardie gevoel hou nie lank nie. Die eerste klip waarteen jy jou toon (Of jou kop) stamp, herinner jou dat jy nie so hoog was as wat jy gedink het nie, en dan sluip twyfel baie vinnig in tot jy later daarin verdrink…

Ek vermoed dit is wat telkemale met die Israeliete gebeur het. Na hulle op droë grond deur die Rooisee gestap het, was hulle seker hoog en vol geloof. Maar ʼn paar dae later, raak hulle honger en twyfel laat hulle vergeet van die wonder wat hulle beleef het – selfs van hulle jare se slawerny in Egipte. God stuur manna en kwartels, wat luuks en voedsaam is, en daar vlieg hulle weer op die vlerke van hulle geloof. Veertig jaar in ʼn woestyn waar niks ooit verander nie, het egter tot gevolg dat hul gemoedere so laag daal, dat hulle al hulle goud smelt om ʼn kalf te maak om te aanbid.

Geen wonder die Here het vir Joshua die opdrag gegee om dapper te wees nie. Hy het geweet die Israeliete is op ʼn laagtepunt. Hulle het geen geloof meer in Hom, hulle leiers of hul eie vermoëns gehad nie. Die beloofde land het ʼn mite geword. ʼn Slaaptydstorie vir die kinders.

Maar God sê vir Joshua, word wakker dis môre. Die beloofde land lê net anderkant die randjie. As jy mooi kyk kan jy dit sien.

 Maar daar was ʼn muur om hierdie belofte gebou. As die volk die massiewe muur net na hulle deur die Rooisee getrek het gesien het, sou hulle glad nie daarvoor geskrik het nie – maar hulle het geskrik en ten spyte van die ongelooflike belofte wat op hulle wag, het hulle weer oorweeg om moed op te gee. Tog kry Joshua dit op ʼn manier reg dat hulle inkoop in sy idee om vir ses dae net om die muur te stap (gelukkig was hulle na veertig jaar goed daarmee) en op die sewende dag musiek te maak…

Ek dink ons reis deur die lewe is baie soos die Israeliete se tog na die beloofde land. Ons weet in ons harte ons is op pad na ʼn bestemming wat ons asems gaan wegslaan. Ons weet ons is bestem vir meer, maar die woestyn om ons weerspreek daardie instink. Rowwe oggende, iemand wie se sukses makliker kom, ʼn kind se teleurstelling. Die woestyn raak vir ons die alledaagse, die tekort aan seëninge is maar hoe dit is.

Maar nou en dan sien ons die beloofde land in die verte. Die droom wat in ons harte geplant is, roer weer en die stem in die wind herinner ons, ons is bestem vir meer. Die beloofde land val egter in niemand se skoot nie, dit verg dapperheid, gehoorsaamheid en deursettingsvermoë.

Daar word in ons harte gefluister, “Word wakker dis môre.” Ek glo dat as God ‘n deur oopmaak, geen mens dit kan toemaak nie. Maar die ding van deure is, jy moet daardeur stap… Ons gaan niks bereik as ons sit en wag vir God se beloftes om in ons skoot te val nie. Ons moet elke oggend opstaan en doen wat ons kan. Dan moet ons soms uit volle bors sing. Nie omdat die klank noodwendig die mure sal laat val nie, maar omdat dit die stem van twyfel binne ons stilmaak.

In my en my persoonlike ridder se geval is dit “Raise a Hallelujah” van Jonathan David & Melissa Helser van Bethel Music wat help keer dat die vyand ons kop onder water druk as ons in twyfel wil verval.

 Die reël van Die Beloofde Land wat my tot dusver die hele week aan die dink het, is:  “Of is dit klaar reeds hier?”

Is die lewe wat jy nou lewe dalk nie reeds ʼn smakie van die beloofde land nie? Ek het ʼn gevoel myne is dalk. Ek het ʼn ongelooflike man, twee gesonde, pragtige kinders en ek doen waarvoor ek lief is. Ek het een van my grootste drome bewaarheid hierdie jaar toe ek Italië toe is en ek kan steeds groter droom.

Ja, ek weet ek is bestem vir meer en ek weet dat dit dapperheid gaan verg. Maar ek staan nie stil nie, ek skrik soms vir die mure, maar ek hou aan loop en sing en glo al voel dit soms asof daar geen vordering is nie.

Vanoggend wil ek vir jou sê wat die Vader op my hart druk:

Miskien is dit tyd dat ons terugkyk op ons pad en die wonderwerke raaksien. Miskien is dit tyd dat ons die bagasie wat saam met ons uit Egipte gekom het afgooi, verbrand, laat gaan en die nuwe heelhartig omarm. Dit is tyd om op te hou kyk na die feestafels van die ander volke en onsself vol maak met die melk en heuning, manna en kwartels wat God vandag vir ons gee.

Hy sal help bou aan jou beloofde land, hou net vas aan Hom.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *