As jong dogtertjie was daar nie een enkele Disney-fliek wat ek nie gekyk en weer gekyk het nie. Soos elke ander jong meisie was daar een prinses wat my laat droom het en een prins wat my laat liefhê het.
Aspoestertjie was beslis nie daardie prinses nie… Daar is verskeie redes hoekom hierdie karakter my op my rype ouderdom steeds ʼn pyn in my alie gee. Snaaks genoeg, die hoofrede het niks te doen met die feit dat sy blond is nie, die rede is: EK IS ASPOESTER!
Oornag het ek verander in die een prinses wat ek nooit wou wees nie. Die hemel weet ek het hard geveg teen die verantwoordelikhede van huis skoonmaak en wasgoed was. Maar ek bevind myself al hoe meer met die besem in die hand en die vadoek oor my skouer.
Daar is egter dinge in die oorspronklike sprokie wat nie in my lewe strook nie! Byvoorbeeld die muisies in my huis, weet nie hoe werk ʼn naald en gare nie. Indien een van hulle met ʼn nuwe T-hemp (branded nogal) plaas toe gaan en die ding skeur, is dit nou maar so. En moenie dink hulle stemmetjies is fyn, of dat hulle in sang uitbars as daar gewerk moet word nie – nee, ʼn oggend saam met my twee muisies laat jou eerder dink jy het nou met die stiefsussies te make.
Dan is daar die Fairy Godmother, in my geval is dit koffie en as sy te hard werk protesteer die gal en lewer en sommer die brein ook. Daar is nie meer glamorous rokke nie, want daar is nêrens om dit heen te dra nie en die glasslippertjies is heeltemal te onprakties vir ʼn ma van twee wat eendag lank lank gelede haarself belowe het om betrokke te wees by alles.
Wat my egter die meeste vang van hierdie Aspoester-bestaan is die stukkies van myself wat ek op ʼn fluweelkussing aan ander bied. Ek het vergeet hoe om nee te sê, hoe om logies na my dagboek en finansies te kyk en te besef dat ek net nie kan nie. Maar die ergste is die stukkies prinses wat wegkwyn onder die druk van hierdie bestaan. Ek het my inner-Belle wat wou lees en lees begin ignoreer, ou Aurora wat soveel slaap nodig gehad het, word tans onderdruk en die Ariël met haar verwondering oor ander wêrelde het nie ʼn stem nie…
Maar daar is moderne prinsesse. Daar is Merida in Brave wat kan baklei soos ʼn ma en Elsa van Frozen met die ontsagwekkende wysheid dat ons dit soms net moet laat gaan. Dalk in hierdie seisoen van my lewe sal ek identifiseer met hulle…
Tog is en bly my lewe ʼn sprokie, ongeag die begin, of hoe? En vanaand, as ek moeg die besem parkeer en die vadoeke in Jik laat lê gaan kruip ek agter my prins in en kan ek droom van die liefde wat Disney sou beny.