So sal die woord wat uit my mond kom, ook wees:
dit sal nie onverrigter sake na My toe terugkeer nie,
maar dit sal doen wat Ek gedoen wil hê
en tot stand bring waarvoor Ek dit gestuur het
Ek glo in die waarde van woorde. Die belangrikste funksie van Word volgens my is die woordteller. Dit is belangrik omdat daar ʼn woordbeperking op die boeke is wat ek skryf, ek moet dus elke woord opweeg, sy waarde en betekenis bepaal en dan soms ook snoei.
Die aakligste gevoel is as daardie gedrukte boekie by jou uitkom en daar is ʼn fout in – ʼn woord op die verkeerde plek, of ʼn verkeerde letter wat die betekenis verander. Die lekkerste deel daarenteen, is as ek terugvoer kry oor die woorde en hoor dat dit hulle doel bereik het.
Maar die afgelope jaar het ek met ander woorde gestoei… woorde wat nie noodwendig ʼn gelukkige einde waarborg nie…
Nie ʼn maand na my ma se dood nie, kry my man ʼn brief – die woorde daarop waarsku hom dat sy werk in gedrang is. Ons besef dadelik dat dit ʼn skuif is om hom uit die pad te kry, so ons betaal ʼn prokureur baie geld om in haar eie woorde te reageer op die brief. Haar woorde aan ons is dat hulle geen been het om op te staan nie.
Ongeag begin hulle ʼn verhoor teen my man. Ek baklei die hele naweek lank met die Here oor die leuens wat ander vertel. Ek sien nie kans daarvoor dat my man sy werk verloor so kort na ek albei my ouers verloor het nie, is my woorde. Maar die Here is stil…
Omdat ek nie kon slaap nie, is ek toe elke oggend vroeg genoeg wakker om op my voorstoep te sit en met die Here te praat. Ek praat, praat, praat. Huil, huil. Huil. Smeek, Soebat, Baklei… maar die Here is stil.
Een oggend, te midde van die storm wat toe besig is om my lewe aan flarde te skeur, sit ek my voet neer. “Here, vanoggend gaan ek hier sit in stilte tot U met my praat,” sê ek soos ʼn stout kind. Dit was blykbaar presies waarvoor die Here gewag het, want daardie oggend begin Hy Sy Woord vir my oop te breek. Jesaja veral.
Elke oggend hoor ek opnuut beloftes in my hart, wat sodra ek my Bybel oopmaak, bevestig word uit Sy Woord. Hy belowe dat Hy my man se onskuld sal laat deurbreek soos die son. Hy belowe my dat Hy ons as gesin sal oprig. Hy belowe dat Hy elke ketting sal breek.
Dit is egter nie altyd maklik om die Here op Sy Woord te vat nie. Veral nie as die geveg ʼn jaar aanhou en die uitslae keer op keer die teenoorgestelde is as waarop jy hoop nie. Ons het terugslag op terugslag beleef. Terugslae wat nou as bakens vir die grootste oorwinnings dien. Ek het moedeloos geraak. My knieë deurgebid, maar die Here het aangehou om Woorde soos Droom, Roeping en Getrouheid aan my geopenbaar.
Ek moes net wag. Aanhou hoop. Aanhou glo en vashou aan Jesaja 55: 11. Die Here se woorde sal nie leeg na Hom toe terugkeer nie… Uit hierdie blinde vertroue het ʼn vrede gevloei. Die probleem het ʼn bysaak geword. Ons het die feit dat my man sy werk verloor het as ʼn seëning begin sien. Ons het tyd as gesin saam gehad. Die Here het tyd gehad om Sy roeping oor my man se lewe in sy oor te fluister. Sy Woorde op sy hart te skryf.
Elke maand was daar meer as genoeg om van te lewe. Die manna en die kwartels het gekom. Ek kon ʼn nuwe kar koop. Ons kon verbeteringe aan ons huis aanbring en ons kon oorsee gaan. Elke keer as ek moed wou verloor het die Here gesê, raak stil Ek het reeds woorde van oorwinning gespreek.
Met die laaste veldslag staan ek die oggend en koffie maak. Ons is vegvoos en so naby daaraan om die saak te laat vaar. In my hart voel ek egter die Here sê vir my dat ek en my man moet bid dat die Here daardie dag die leeus se bekke moet sluit. Dat Hy my man soos Daniël sal oprig. (Gaan lees gerus Daniël se storie.)
Ons bid toe maar, want wat anders kan ons doen? (Op hierdie oomblik glimlag ek juis oor hierdie woorde, want ek besef opnuut gebed is juis die kragtigste wapen.)
ʼn Uur na die aanvang van die verhoor kom daar ʼn boodskap van my man. Alles is verby. My hart klop in my keel. As ek Petrus was, het ek op daardie oomblik gesink, maar toe ek hom bel sê my man (en ek haal aan) : “Ek het nie woorde nie.”
Paniekerig vra ek: “Hoe so?”
Om ʼn lang storie kort te maak, skaars tien minute in die verhoor in, het die persoon wat die hele tyd met leuens teen hom getuig het, se woorde opgeraak. Dit is mos die ding van jok: jy sukkel mos maar later om te onthou wat jy nou eintlik gelieg het. In elk geval, die leeu se bek was toe. My man se onskuld het deurgebreek soos die son. Letterlik. Die grootste prys wat hy daaruit het, is ʼn ongelooflike getuigskrif van jare se goeie diens. Woorde wat herstel.
Hier glimlag ek weer.
Presies ʼn jaar na hy afgedank is, stap my man in ʼn maatskappy in, in die pos wat God oor hom geroep het. Hy stap daar in met lewenswysheid en geloof en meer as iets anders, die wete dat God se Woorde nooit leeg sal wees nie.
Miskien wonder jy vandag oor God se Woord en Beloftes in jou lewe. Dalk wonder jy oor jou roeping en jou doel. Onthou, in die ses dae wat Hy met Sy woorde alles in ons heelal geskape het, het Hy spesiale woorde oor jou lewe geroep, soms moet jy net eers stil raak om dit te hoor.