Die Bybel is vol rigting-verander oomblikke, of nee, eintlik is die hele Bybel een groot rigting verander, van waar die Gees van God oor die water sweef tot in Openbaring waar die laaste dae beskryf word. Tussenin is daar klomp stories van mense wat rigting moes verander om God se plan uit te leef. Adam en Eva. Noag. Jakob. Abraham. David. Petrus en die res van die dissipels.
Die persoon wie se rigting-verander my egter bybly, en oor wie ek die afgelope tyd die meeste nadink, is die Samaritaanse vrou by die put. In my kop kan ek haar storie sien afspeel. Die vrou met haar nie- so-perfekte-verlede wat soos elke ander dag put toe gaan om water vir haar huis te gaan haal. Om die een of ander rede het ek oneindige simpatie met hierdie naamlose vrou. Miskien is dit omdat ek met my neiging om van alles ʼn liefdesverhaal te maak, haar agtergrond in my verbeelding kan sien afspeel. Die vrou wat nie net deur een of twee nie, maar vyf van haar mans verlaat is en weet dat die een vir wie sy tans water aandra, nie regtig ernstig oor die verhouding is nie. Ek kan dink hoe deurmekaar haar gedagtes moes wees, hoe troebel haar gemoed. Ek kan my ook goed indink hoe nog meer moedeloos sy moes voel toe sy die Joodse man by háár put sien sit. Sy oordeel wat in haar agterkop eggo nog voor hy ʼn woord gepraat het.
Wat my vermoede oor haar gemoedstoestand en haar selfbeeld versterk, is haar ongefilterde antwoord aan Jesus toe hy haar vir water vra: “Meneer, vra jy mý vir water?”
My hart wil breek, want ek weet hoe dit voel as selfs so doodeenvoudige versoek van ʼn vreemdeling jou diepste onsekerhede na die oppervlak bring. Hoe jy sommer vooraf ʼn waarskuwing wil rig en sê “Weet net asseblief nou al dat ek nie goed genoeg is nie.”
Hier wil ek egter my eie storie onderbreek. Die put waar Jesus, die Messias, vir hierdie vrou wag, is op die stuk grond wat Jakob vir Josef gegee het. Met ander woorde, lank voor hierdie Samaritaanse vrou haar eerste asem ingeasem het, het God hierdie rigting-verander oomblik in haar lewe beplan.
Terug na die vrou by die put wat in die oomblik wonder of die Jood nie dalk dronk of mal is om haar vir water te vra nie. Sy weet immers die blote feit dat sy ʼn Samaritaan is maak dat sy nie die man se aandag werd is nie. Maar Jesus het ander planne en sy antwoord ruk elke keer my hart: “As jy maar net weet met wie jy praat en wat die Vader vir jou ingedagte het…:
Wow…
Hoe anders sal ons antwoord op God se roeping lyk, as ons weet wat God vir ons beplan of as ons met sekerheid sy stem kon hoor? Die res van die storie is nie minder belangrik nie, maar ek wil graag na die einde toe spring. Die vrou los haar waterkruik net daar by die put en gaan vertel in die dorp wat sy pas beleef het. In my kop het ek die saak ook uitgemaak dat sy man nommer ses gelos het en nooit weer haar identiteit of waarde in ʼn verhouding gaan soek het nie.
Want dit is mos wat met ʼn mens gebeur as jy van rigting verander.
Vir ʼn baie lang tyd, plant die Here skrif en stukkies waarheid daarrondom in my hart, maar ek is moeg geskryf en ek voel in elk geval nie dat ek as liefdesverhaalskrywer, enigsins in staat is om die woord te verkondig nie. Tog, sonder ophou, fluister die Gees dat ek moet onthou wie my vra – die God wat die woorde in Moses se mond en die kierie in sy hand geplant het en al weet ek nie wat sy plan vir my is nie, weet ek dat God in Sy woord belowe dat Hy alles ten goede laat meewerk vir die wat in Hom glo.
Daarom, so bietjie bang en glad nie so seker van myself nie, skryf ek vanoggend my eerste “Preek-blog”, want in my hart is ek oortuig dat lewende water vir my wag. Ek moet net van rigting verander.