Die name van God

Die name van God

As ek myself voorstel, begin ek gewoonlik met die volgende: “Hallo, ek is Didi.” Dit is ʼn baie eenvoudige sin, maar in die stelling is daar ʼn hele lewe opgesluit.

As daar een ding is wat ons regdeur die Bybel van God leer, is dit dat name vir Hom belangrik is. Hy gee aan Sy mense name, maar Hy verander ʼn hele paar daarvan, om by Sy storie in te pas. Die eerste twee mense wie se name so merkwaardig verander is, was Abram en Sarai, wat nie dadelik glo het dat God hulle onvrugbaarheid kan oorkom nie. God doen egter baie meer as om net hulle omstandighede te verander, Hy verander hulle name. Abram word Abraham, wat die vader van vele beteken en Sarai, word Sarah – God se prinses.

Na Jakob se ontmoeting met God, verander sy naam na Israel. Hierdie naam is nie net ʼn belofte nie, maar dit is die begin van ʼn baie belangrike keerpunt in Jakob se lewe, maar ook met God se verhouding met Sy volk. Daar is ook Simon Petrus, en laat ons nie van Saulus die vervolger vergeet wat Paulus die apostel word nie.

Min mense weet dit van my, maar Didi is nie my doopnaam nie. Dit is nie eers afgelei van een van my twee doopname nie. Dit is ʼn naam wat deur iemand spesiaal vir my gegee is toe hy drie was en my boeties hom belet het om my sussie te noem. My pa het altyd gespot en gesê dit vat my twee keer langer om uit te pluis watter geur roomys ek voor lus is, of wat ek wil aantrek omdat Didi en Etrecia albei eers ʼn sê moes hê. Hierdie week vier ons die eerste keer wat ek die naam ‘Mamma’ gekry het, wanneer my dogter Saterdag haar sewentiende verjaarsdag vier.

Maar die doel van hierdie blog is nie om te gesels oor mense se name en die betekenis nie, nee, ek wil graag praat oor die name van God, want ek glo die sleutel tot ʼn dieper verstaan van wie Hy is, lê in die name wat Hy Homself noem.

Daar is Jahweh die naam waarmee God Homself aan Moses en die Israeliete voorstel. Hierdie naam word meer as 6 800 keer in die Ou Testament genoem. Hierdie naam van God was so heilig is dat die volk dit nie buite die tempel mag gebruik het nie. Dan is daar Jehova Jireh, die naam wat Abraham vir God “gegee” en die plek na vernoem het waar hy vir Isak moes offer, want Abraham kon sekerlik nie sien hoe God hom ʼn vader van vele sou maak as hy sy enigste seun sou offer nie – maar Abraham het geweet Jehova Jireh is sy God en die Here het voorsien.

Dan is daar Jehova Nissi, die naam wat Moses God noem toe hy ʼn altaar vir die Here bou, want hy het geweet dat hulle (God se volk) nie op hulle eie die Amalekiete sal kan verslaan nie, maar dat God ʼn magtige vegter is wat voor hulle uitgaan en hulle vyande platvee. Deur die naam Jehova Nissi te gebruik het Moses verklaar dat God self die leier van hulle weermag was.

Daar is nog so baie name vir God, maar hier is nie in die blog plek vir my om almal te bespreek nie, al wil ek hoe graag. Tog wil ek graag nog een naam met julle deel – Elohim. Hierdie is nie ʼn bekende naam nie, of dit was nie vir my nie, tot ek Dit een oggend in ʼn profetiese woord oor my man gehoor het. Ek en die eggenoot bestudeer nou al vir langer as ʼn jaar die Name van God, maar Elohim het (om eerlik te wees) vir my leeg bly voel en ek was nogal teleurgesteld dat dit die Naam is waarmee die Here hom aan ons kom voorstel het.

Tot ek twee weke gelede ʼn preek geluister het oor die heiligheid van God, en hoe Hy die Skepper is, wat nie geskape is uit iets nie, maar nog altyd daar was. Wat almagtig is, nie net in wat Hy kan doen nie, maar in wat Hy weet, wat Hy beplan, wie Hy is…  en net daar, terwyl ek wasgoed ophang, snap my hart wat Elohim werklik beteken.

Elohim beteken my God is Heilig. My God het geen krag nodig om Hom in stand te hou nie, Hy het nie my raad en my advies nodig nie en my swakheid, keer nie Sy planne vir my nie.

Elohim beteken ook dat ek niks is sonder God nie. Hy is my Skepper wat my onderhou, wat my op my naam geroep het- my Syne gemaak het.

Elohim beteken Sy gedagtes is hoër as myne en as ek nie verstaan wat besig is om te gebeur nie, is dit normaal want ek is ʼn mens, Hy is God. Ek hoef nie te weet hoe lyk die pad nie, ek moet die Herder vertrou.

Maar meer as alles, beteken Elohim vir my dat selfs as ek nie weet hoe Hy gaan voorsien nie en al weet ek nie hoe ek die volgende veldslag gaan oorleef nie, kan ek rus onder die vlerke van die Een wat daar was voor plek en tyd. Die God wat uit niks alles gemaak het en toe nog gedink het, die wêreld het ʼn Didi nodig.

Om van rigting te verander

Die Bybel is vol rigting-verander oomblikke, of nee, eintlik is die hele Bybel een groot rigting verander, van waar die Gees van God oor die water sweef tot in Openbaring waar die laaste dae beskryf word. Tussenin is daar klomp stories van mense wat rigting moes verander om God se plan uit te leef. Adam en Eva. Noag. Jakob. Abraham. David. Petrus en die res van die dissipels.

Die persoon wie se rigting-verander my egter bybly, en oor wie ek die afgelope tyd die meeste nadink, is die Samaritaanse vrou by die put. In my kop kan ek haar storie sien afspeel. Die vrou met haar nie- so-perfekte-verlede wat soos elke ander dag put toe gaan om water vir haar huis te gaan haal. Om die een of ander rede het ek oneindige simpatie met hierdie naamlose vrou. Miskien is dit omdat ek met my neiging om van alles ʼn liefdesverhaal te maak, haar agtergrond in my verbeelding kan sien afspeel. Die vrou wat nie net deur een of twee nie, maar vyf van haar mans verlaat is en weet dat die een vir wie sy tans water aandra, nie regtig ernstig oor die verhouding is nie. Ek kan dink hoe deurmekaar haar gedagtes moes wees, hoe troebel haar gemoed. Ek kan my ook goed indink hoe nog meer moedeloos sy moes voel toe sy die Joodse man by háár put sien sit. Sy oordeel wat in haar agterkop eggo nog voor hy ʼn woord gepraat het.

Wat my vermoede oor haar gemoedstoestand en haar selfbeeld versterk, is haar ongefilterde antwoord aan Jesus toe hy haar vir water vra: “Meneer, vra jy mý vir water?”

My hart wil breek, want ek weet hoe dit voel as selfs so doodeenvoudige versoek van ʼn vreemdeling jou diepste onsekerhede na die oppervlak bring. Hoe jy sommer vooraf ʼn waarskuwing wil rig en sê “Weet net asseblief nou al dat ek nie goed genoeg is nie.”

Hier wil ek egter my eie storie onderbreek. Die put waar Jesus, die Messias, vir hierdie vrou wag, is op die stuk grond wat Jakob vir Josef gegee het. Met ander woorde, lank voor hierdie Samaritaanse vrou haar eerste asem ingeasem het, het God hierdie rigting-verander oomblik in haar lewe beplan.

Terug na die vrou by die put wat in die oomblik wonder of die Jood nie dalk dronk of mal is om haar vir water te vra nie. Sy weet immers die blote feit dat sy ʼn Samaritaan is maak dat sy nie die man se aandag werd is nie. Maar Jesus het ander planne en sy antwoord ruk elke keer my hart: “As jy maar net weet met wie jy praat en wat die Vader vir jou ingedagte het…:

Wow…

Hoe anders sal ons antwoord op God se roeping lyk, as ons weet wat God vir ons beplan of as ons met sekerheid sy stem kon hoor? Die res van die storie is nie minder belangrik nie, maar ek wil graag na die einde toe spring. Die vrou los haar waterkruik net daar by die put en gaan vertel in die dorp wat sy pas beleef het. In my kop het ek die saak ook uitgemaak dat sy man nommer ses gelos het en nooit weer haar identiteit of waarde in ʼn verhouding gaan soek het nie.

Want dit is mos wat met ʼn mens gebeur as jy van rigting verander.

Vir ʼn baie lang tyd, plant die Here skrif en stukkies waarheid daarrondom in my hart, maar ek is moeg geskryf en ek voel in elk geval nie dat ek as liefdesverhaalskrywer, enigsins in staat is om die woord te verkondig nie. Tog, sonder ophou, fluister die Gees dat ek moet onthou wie my vra –  die God wat die woorde in Moses se mond en die kierie in sy hand geplant het en al weet ek nie wat sy plan vir my is nie, weet ek dat God in Sy woord belowe dat Hy alles ten goede laat meewerk vir die wat in Hom glo.

Daarom, so bietjie bang en glad nie so seker van myself nie, skryf ek vanoggend my eerste “Preek-blog”, want in my hart is ek oortuig dat lewende water vir my wag. Ek moet net van rigting verander.

Die Dogtertjie – ‘n Gedig vir Ané

'n Gedig vir my dogter

Die klein dogtertjie in my kop

glo steeds dat sy drake kan verslaan

in haar pienk prinsesrok,

al weet die vrou wat ook daar staan

die gevaar skuil in gedagtes en goeie intensies

en dat die skerpste swaard, die woord nee is

en die draak net kan wyk as dit reg gebruik word.

Die klein dogtertjie in my hart

glo steeds aan vir altyd gelukkig saam

in die prins se paleis,

al weet die vrou met die kind se naam

dat sy elke steen van haar veilige vesting

self sal moet bou, met die klippe na haar gegooi

want dit is die enigste manier om sterk te word.

Die klein dogtertjie in my

het gedink vrouwees sal maklik wees

tot ek vrou geword het en ʼn dogtertjie gedra het in my buik

en besef dit is ʼn oorlog, ʼn geveg in die gees

om die vrou wat in die klein dogtertjie ontluik

toe te rus om eendag self te stry

vir elke deel dogter en vrou in haar kop en hart.

As die Here antwoord…

Ek het al talle male in my lewe pleitend voor die Here gestaan en gesmeek vir dinge. Ek was al geseënd genoeg om te sien hoe my gebede verhoor word, maar ek moes al male sonder tal aanvaar dat my wil nie noodwendig ooreenstem met God se wil en plan nie. Moenie, my verkeerd verstaan nie, ek kan saam met Garth Brooks die Here dank vir onverhoorde gebede, omdat ek weet dat Sy plan vir my met Liefde deurdrenk is en dat Hy alles in my lewe met daardie maatstaf afmeet.

Tog hou ek steeds my hart vas as my kinders Hom so onbeskaamd en sonder enige teken van twyfel vir iets vra… Hulle is so seker dat hulle gebede verhoor gaan word. Dat wonderwerke kan gebeur. Dat Hy altyd luister. Dit is seker hoekom die Woord vra dat ons soos kinders glo, want as grootmens is dit regtig nie maklik nie.

2016/2017 was nie vir die Potgieters ʼn goeie tyd nie. Ons het albei my ouers verloor, my man is onbillik ontslaan by sy werk en ons moes baklei vir regverdigheid. Te midde van hierdie storms wat besig was om te woed om ons koppe, moes ons ons geliefde oudste viervoet laat uitsit. Ané, my oudste, se hart was stukkend en dit het haar ʼn hele ruk gevat voor sy weer op die punt gekom het wat sy gevra het of sy asseblief maar weer ʼn hond mag kry.

Hier moet ek net eers byvoeg, dat ons op daardie stadium steeds drie honde op ons erf gehad het.  Drie reuntjies. Tog wou Ané vreeslik graag ʼn Boston-terriër gehad het…

Ons het baie mooi aan haar verduidelik, dat indien ons ooit ʼn hond sou kry, moes dit 1) Nie meer ʼn baba wees nie, want ʼn baba gaan in die swembad val en verdrink as ons nie by die huis is nie. 2) ʼn Dogtertjie wees, want die seuntjies op die erf baklei reeds te veel. 3) Sy sou reggemaak moes wees, want anders sou daar baie vinnig baie hondjies op ons erf gewees het.

Een aand aan die begin van Oktober, vra Ané dat ons saam met haar bid. Sy begin deur die Here te herinner aan haar verlies. Eers haar oupa, toe Bronx (ons spanjoel) en toe ouma. Op daardie oomblik is ek reeds tranerig, maar haar volgende woorde het my hart gebreek. Sy het gebid: “Here, ek wil asseblief ʼn hond vir Kersfees hê, een wat myne is. Wat ek kan vashou as ek hartseer voel, saam met wie ek kan speel en wie saam met my in my bed kan slaap. Here, dit moet ʼn groot dogtertjie-hond wees, wat reggemaak is. En Here, laat dit ʼn Boston-terriër wees.  Amen. “

Ek en my man het vir mekaar gekyk en ons albei het geweet dat hierdie kind haarself oopgestel het vir ʼn groot teleurstelling. Ons het probeer verduidelik dat ʼn mens nie sommer so hond sal kan kry nie, maar sy het geglo dat God haar gebed sal verhoor.

Ek het al vergeet ek behoort aan die Facebook-groep Boston Terriër Rescue Assosiation toe ek die 23ste Desember 2018 Facebook op my foon oopmaak. Die eerste plasing wat verskyn vang my aandag, die einste groep waarvan ek al vergeet het, het ʼn foto van die mooiste teef gedeel wat dringend ʼn huis soek. Ek vra dadelik van waar hulle is. Ek het skaars die woorde getik toe daar ʼn boodskap op my foon kom van Annika Smith, my voorkeur fotograaf se vrou. “Didi, dit is ek wat die foto geplaas het, sal julle belangstel?”

Ek wys toe vir my man die foto en hy begin die belangrike vrae vra. Hoe oud is sy? Twee jaar. Is sy reggemaak? Ja. Is sy gewoond aan ander honde? Ja. Dit het nie baie oorreding gekos vir hom om ja te sê nie, maar die aand, toe ons twee rustig raak sê hy vir my: “Didi, jy weet dit is steeds ʼn risiko? Sê nou sy pas nie aan nie. Sê nou net die hond hou nie van Ané nie?”

Ek het my oë toegemaak en gebid: “Here, U het ons so ver gebring, ek vertrou U.”

 Aldus en Annika sou Sindy die 25ste by ons kom aflaai het, maar op die 24ste (die dag wat ons geskenke uitdeel), het sy gevra of hulle die woef maar die middag kan bring. Ons het geskenke uitgedeel en ek het vir Ané gesê dat haar groot geskenk deur Takealot afgelewer sou word… Net na vier, stop die kar voor ons hek en die mooiste Boston klim uit. Bang en onseker. Ek gaan hurk dat sy na my toe kom, maar langs my hurk Ané en die hond stap reguit in haar arms in.

Ek hoor hoe my dogter saggies in die hond se oor fluister: “Ek het gebid vir jou” en ek kry skaam vir my eie ongeloof. Op die dag wat ons Jesus se koms aarde toe vier, het die Here my kom wys dat Hy die God is wat ons die begeertes van ons hart gee en dat Hy luister na elke woord van elke gebed. En nou nog, as ek Sindy saam met Ané in die bed sien lê en die liefde tussen hulle beleef, herinner Hy my dat ek net moet vra en glo dat Hy elke woord hoor…

Die weduwee se kruik

Elke oggend staan ek vroeg op. Lank voor die res van my gesin – veral die afgelope paar weke. Dit is vir my siel nodig om die stilte in te drink en daardie klein bietjie alleen-tyd vas te gryp voor die dag aan die gang kom.

Hierdie is al vir jare die gewoonte. Soms sit ek op my stoep met ‘n koppie koffie wat koud word in my hande – doodstil. Ander kere bid ek, pleit ek, prys ek. Dit is werklik asof die Vader my in die moeilikste tye vroeër wakker maak sodat ek kan krag hê vir die dag.

Die laaste paar weke is die stilte meer as die woorde. Ek weet nie meer wat om vir die Here te vra nie. Ek het so lank gekerm oor die tempo van die “normaal” en ek sien al vir so lank uit na ʼn rustiger tyd – en nou het ek dit. Ek kan tog nie hieroor ook kla nie?

Tog besef ek dit gaan nie oor die dag tot dag dingetjies nie. Dit gaan oor waarheen ons op pad is. Dit gaan oor harde werk wat in die kwessie van 54 dae (as ek reg is), ongedaan gemaak is. Besighede vou, mense sit in sak in as. In my eie huis is drome vir die jaar tot niet. My dogter se cheerleading waaraan sy so hard gewerk het, kan nie meer aangaan nie, my seun se rugby is gestop en die jaar se fiksheidsontwikkeling is daarmee heen.

Ek voel deesdae al hoe meer ek wil vir die Here sê, ek kan nie meer doen wat U vra nie. Ek is leeg, ek kan nie na ander uitreik om hoop te gee nie – ek het nie eers meer genoeg vir myself nie. Maar elke oggend, soos die son oor my agterplaas opkom, sê die Here vir my: Kyk, my genade vir hierdie dag is nuut, die nag is verby, Ek maak jou weer vol.

Ek skep asem, en getrou aan die Groot Storieverteller se Karakter, lei Hy my na ʼn waarheid. Ek lees 2 Konings 4, ʼn gedeelte wat ek steeds goed ken al het ek dit op skool laas gelees – die storie van die weduwee se kruik.

Ek voel die weduwee se angs toe sy vir Elisa verduidelik hoe groot haar nood is. Vir haar was dit ʼn te kort aan finansies, sy het die hoof broodwinner verloor en op die punt gestaan om haar kinders te verloor. Daar is baie mense nou in daardie bootjie, ek was self twee jaar terug daar en ek ken die vrees. Ek weet hoe vreet dit weg aan ʼn mens, maar daar is ander tekorte in hierdie tyd wat ewe erg is. Die tekort aan geduld, die tekort aan tyd en die tekort aan hoop.

Elisa haal nie ʼn sak vol goud uit en los haar probleem vinnig op nie. Nee, hy vra dat sy moet bring wat sy het. En nog vreemder, hy sê vir haar om al haar leë kruike te bring, selfs kruike te gaan leen. Ek kan net dink wat deur die weduwee se kop gegaan het. Hoe sy dalk probeer skat het hoeveel olie sy het, veral toe sy dit in die leë kruike begin gooi.  Ek kan dink hoe haar verwondering gegroei het soos sy die een vol kruik na die ander eenkant gesit is. Ek kan dink hoe het die trane oor haar wange begin loop het en hoe sy, toe die laaste leë kruik vol was, haar twee seuns teen haar vasgedruk het en net saggies ʼn dankie geprewel het.

Die Here kom selde en beloon niks met iets. Hy is ʼn God van tiendes, van saad, van vyf broodjies en twee vissies. Hy verwag ook van ons gehoorsaamheid en aksie.

Ja, vanoggend, terwyl die son opkom oor my erf, besef ek dat as ek myself beskikbaar stel, maak my omstandighede en hoeveel daar van wat in my oor is, nie saak nie. Hy vat die bietjie hoop, die bietjie tyd en die bietjie geduld en Hy maak ander se kruike daarmee vol – en die beste hiervan is dat daar dan vir my oorvloedig oorbly om self te gebruik.

So, maak leë kruike bymekaar en maak hulle vol, want soos Oom Lukas Maree hierdie deel so mooi opgesom het: “Dit is die dinge wat ons weggee, wat ons ryk maak.”

Jou Skippie

Daar is min dinge wat my so sleg laat voel oor my eie ma-wees, soos ʼn preek oor ouerskap. Gisteraand luister ek weer so preek op ons gemeente se Facebook-blad, met die hoop dat die saad sal val en sal opkom as ʼn welige boom waaronder my kinders kan skuil.

Die tema is die mag van die tong… ek wil sommer na die eerste minuut afsit en eerder met ʼn boek en ʼn glas wyn in die bad gaan lê, want alhoewel ek my bestaan uit woorde maak, ontbreek die regtes my die meeste van die tyd. Ek luister tog hoe ons gemeente se kinderbediening-leier uit Jakobus 3 voorlees. Jakobus vergelyk die tong met twee stuurmeganismes, een ʼn stang in ʼn perd se bek, die volgende ʼn roer van ʼn skip.

En daar kliek iets binne my. Om ʼn ouer te wees, is om die kaptein van ʼn skip te wees. Dit is ʼn wonderlike vergelyking vir my aangesien ek niks van skepe weet nie, net soos ek eintlik niks van ouerskap weet nie…

Maar van die bietjie wat ek wel weet, kan ek hierdie volgende vier stellings oor ouerskap maak.

  1. Soos Joe Black tereg sing, is ʼn skip nie gebou om in ʼn hawe te bly nie. Ek het dit net weer besef tydens die grendeltyd, kinders is nie gebou om stil te sit en niks te doen nie. Hulle wil op dakke klim, gevaarlike “ramps” vir fietse bou. Hulle soek die water onder hulle boeg. Ek kan ook hier byvoeg, dat geen skip die oop waters invaar, sonder ʼn eindbestemming nie. In die hawe kry dit genoeg brandstof, ʼn reisplan, koördinate om sy vrag, of dit passasiers of karre is, veilig te besorg.
  2. Storms op die oop see is gewaarborg, nie eers toe Jesus saam met sy dissipels in die bootjie was kon hulle ʼn storm verhoed nie. Die lewe gaan groot golwe oor jou skippie gooi, hy gaan sterk winde stuur, storm waters. Jou skippie gaan soms geen ander keuse hê as om sy seile te laat sak en te wag vir die storm om oor te waai nie. Niks wat jy as ouer doen kan dit verhoed nie, jy kan egter seker maak jou skip is reg vir wat ook al die see op sy pad bring. Soms doen jy dit met gesonde kos en ʼn gesonde leefstyl.  Soms doen jy dit met dissipline en straf. Maar meeste van die tyd doen jy dit op jou knieë want Jesus is bekend vir sy vermoë om die storm stil te maak.
  3. Jy is die kaptein van hierdie skip. Jou woorde stuur jou skippie – selfs jou tiener-skip. Jou liefde is die enjin of die seile wat dit dryf. Goed, lees die vorige sin weer – maar hou hierdie keer die eindbestemming en die vrag wat afgelewer moet word ingedagte. Jou kind is gebore met ʼn doel op aarde – een wat uniek is en eie aan hom of haar. Iewers by ʼn hawe in die toekoms staan iemand en wag vir hierdie vrag wat jou kind gaan bring. Ons woorde moet ons kinders rig. Die hemel weet ek sukkel soms om nie te sê wat ek dink nie, maar ek bly bid dat alles wat oor my lippe kom, my kinders op die regte koers sal hou – en ja, soms moet ek sê ek is jammer. En soms moet ek sê ek stem nie saam nie. Maar ek hou aan om hulle aan te stuur met my liefde – dit weet ek darem het ek in oormaat en ek weet as ek ooit nie genoeg het nie, sal God se Liefde die tekort bedek. Dit is daardie liefde wat hulle dra. Ek het onlangs albei my ouers in ʼn kort tydjie verloor en ek besef nou eers, hoe sterk hulle liefde was – dit gee my selfs nou krag en dryf my elke dag. Dan is daar die punt rondom Kaptein wees. Ek wens soms ek kan net een van die matrose wees. Dat ek myself blind en dom kan hou. Dat ek net saam kan speel en lag (iets waarmee my man baie goed is), maar ek besef telkemale dat ek in die bevoorregte posisie is om die kaptein van hierdie skip te wees. As my skippie op sy eindbestemming sy of haar vrag aflewer, gaan niemand my prys vir hoe goeie kaptein ek is nie, maar ek bly aanspreeklik vir die veiligheid van die skip en sy vrag.
  4. Laastens, die skip behoort aan ʼn Maatskappy en die kaptein is in diens van daardie Maatskappy. Die Maatskappy sorg dat die beste span die skip in stand hou, die Maatskappy sorg dat die skip met die beste tegnologie toegerus is en die Maatskappy sorg dat die regte Kaptein aangestel is (as jy dalk gedink het jy is nie die beste ma wat jou kinders kon hê nie – dink weer.) Die Maatskappy se Naam word op die skip aangebring sodat almal kan sien aan wie dit behoort en as die skip in gevaar is, stuur die Maatskappy ʼn reddingspan. Jou kind behoort aan die Skepper van die heelal. Die God van Noag – die arkbouer. Jy is in diens van hierdie God wat storms stil maak en op water loop.

Ja, jy is die kaptein en jy het ʼn bitter groot verantwoordelikheid. Dit is okei om soms die skip in die hawe te hou, onder jou vlerk waar jy weet jou skippie is veilig. Dit is immers waar jy die skip voorberei vir sy reis en waar sy vrag gelaai word – jy moet net weet wanneer om die skip weer uit te stuur.

Ek wil afsluit met die gedagte, in die groter prentjie is jy maar ook net ʼn skip met ʼn vrag wat veilig die ewigheid ingevat moet word. Ek glo, met my hele hart, dat sodra ons ouers word, God die roer as Kaptein oorneem. Sy woorde stuur jou en Sy liefde dryf jou. Hy word ook die hawe waar jy kan rus en heel kan word sodat jy jou vrag met sekerheid kan dra en die oop waters met moed kan aandurf.