Die weduwee se kruik

Elke oggend staan ek vroeg op. Lank voor die res van my gesin – veral die afgelope paar weke. Dit is vir my siel nodig om die stilte in te drink en daardie klein bietjie alleen-tyd vas te gryp voor die dag aan die gang kom.

Hierdie is al vir jare die gewoonte. Soms sit ek op my stoep met ‘n koppie koffie wat koud word in my hande – doodstil. Ander kere bid ek, pleit ek, prys ek. Dit is werklik asof die Vader my in die moeilikste tye vroeër wakker maak sodat ek kan krag hê vir die dag.

Die laaste paar weke is die stilte meer as die woorde. Ek weet nie meer wat om vir die Here te vra nie. Ek het so lank gekerm oor die tempo van die “normaal” en ek sien al vir so lank uit na ʼn rustiger tyd – en nou het ek dit. Ek kan tog nie hieroor ook kla nie?

Tog besef ek dit gaan nie oor die dag tot dag dingetjies nie. Dit gaan oor waarheen ons op pad is. Dit gaan oor harde werk wat in die kwessie van 54 dae (as ek reg is), ongedaan gemaak is. Besighede vou, mense sit in sak in as. In my eie huis is drome vir die jaar tot niet. My dogter se cheerleading waaraan sy so hard gewerk het, kan nie meer aangaan nie, my seun se rugby is gestop en die jaar se fiksheidsontwikkeling is daarmee heen.

Ek voel deesdae al hoe meer ek wil vir die Here sê, ek kan nie meer doen wat U vra nie. Ek is leeg, ek kan nie na ander uitreik om hoop te gee nie – ek het nie eers meer genoeg vir myself nie. Maar elke oggend, soos die son oor my agterplaas opkom, sê die Here vir my: Kyk, my genade vir hierdie dag is nuut, die nag is verby, Ek maak jou weer vol.

Ek skep asem, en getrou aan die Groot Storieverteller se Karakter, lei Hy my na ʼn waarheid. Ek lees 2 Konings 4, ʼn gedeelte wat ek steeds goed ken al het ek dit op skool laas gelees – die storie van die weduwee se kruik.

Ek voel die weduwee se angs toe sy vir Elisa verduidelik hoe groot haar nood is. Vir haar was dit ʼn te kort aan finansies, sy het die hoof broodwinner verloor en op die punt gestaan om haar kinders te verloor. Daar is baie mense nou in daardie bootjie, ek was self twee jaar terug daar en ek ken die vrees. Ek weet hoe vreet dit weg aan ʼn mens, maar daar is ander tekorte in hierdie tyd wat ewe erg is. Die tekort aan geduld, die tekort aan tyd en die tekort aan hoop.

Elisa haal nie ʼn sak vol goud uit en los haar probleem vinnig op nie. Nee, hy vra dat sy moet bring wat sy het. En nog vreemder, hy sê vir haar om al haar leë kruike te bring, selfs kruike te gaan leen. Ek kan net dink wat deur die weduwee se kop gegaan het. Hoe sy dalk probeer skat het hoeveel olie sy het, veral toe sy dit in die leë kruike begin gooi.  Ek kan dink hoe haar verwondering gegroei het soos sy die een vol kruik na die ander eenkant gesit is. Ek kan dink hoe het die trane oor haar wange begin loop het en hoe sy, toe die laaste leë kruik vol was, haar twee seuns teen haar vasgedruk het en net saggies ʼn dankie geprewel het.

Die Here kom selde en beloon niks met iets. Hy is ʼn God van tiendes, van saad, van vyf broodjies en twee vissies. Hy verwag ook van ons gehoorsaamheid en aksie.

Ja, vanoggend, terwyl die son opkom oor my erf, besef ek dat as ek myself beskikbaar stel, maak my omstandighede en hoeveel daar van wat in my oor is, nie saak nie. Hy vat die bietjie hoop, die bietjie tyd en die bietjie geduld en Hy maak ander se kruike daarmee vol – en die beste hiervan is dat daar dan vir my oorvloedig oorbly om self te gebruik.

So, maak leë kruike bymekaar en maak hulle vol, want soos Oom Lukas Maree hierdie deel so mooi opgesom het: “Dit is die dinge wat ons weggee, wat ons ryk maak.”