Uit die mond van die boom – Stella

Ek en my eie persoonlike ridder was onlangs by ʼn konsert van ʼn uiters talentvolle nuwe Afrikaanse sangeres. Die hele vertoning lank was ons albei die ene hoendervleis! En toe begin sy te vertel van die boom in die Laeveld…

Vir ʼn week lank maal die spesifieke lied in my kop. Die konsep van as ʼn boom sou kon praat het my hart geraak en my gedagtes aan die gang gesit. Daar is bome in my tuin wat fantastiese stories sou deel. Die perskeboom in die verste hoek, sou vertel hoe my ouma in die somer elke oggend een van sy vrugte kom pluk het vir ontbyt. Die vyebome sou kon getuig van jare se gaste. Die enorme lemoenboom wat ʼn baba was toe ek Graad 1 toe is, sou kon vertel hoe ek grootgeword het. Ek sou egter nie sy storie sommer glo nie, aangesien hy nie altyd is wat hy voorgee om te wees nie (sy lemoene is suur in die winter, maar stroopsoet in die somer). Dan is daar die nuwe klein suurlemoenboompie by my  dogter se kamervenster waaroor ek gedroom het… Hy (of sy) sal vertel dat ons twee suurlemoenbome op presies dieselfde tyd geplant het, maar dat net een het oorleef het, die een wat ek in my droom sien grootword het sodat my dogter die geur van suurlemoenbloeisels kan ervaar elke jaar met haar verjaarsdag.

Gisteraand was hier ʼn yslike storm in ons dorp. ʼn Vriendin vertel vandag van die Wilger se tak op haar heining. Arme boom, het sy so terloops gesê. Ek het self op my agterstoep gestaan en bid vir elke klein appelkosie aan my geliefde boom en was vanoggend bitter dankbaar vir die manier wat die boom aan sy vrugte bly vasklou het – daar is immers niks soos tuisgemaakte konfyt nie…

Maar die dag het draaie geloop en ek het weer die woorde van die liedjie gaan luister.

Dit gaan nie oor daardie boom in die Laeveld waarvan Stella vertel het nie, besef ek toe. Dit gaan oor my ma, wie se liggaam afgetakel is deur die Groot K en die chemo wat sy kry om dit te beheer. Dit gaan oor die ou tannie in die rolstoel wie se dogter haar bederf met ʼn Mugg en Bean-melkskommel nadat sy dokter toe was.

Die eerste woorde wat hierdie waarheid aan my kon openbaar, sou seker die boom wees wat vertel hoe hy (of sy) eens die prag van die Laeveld was. My ma was stunning. Die tannie wat glimlag oor haar nuwe haarstyl, seker ook. Maar dit was eerder die reël oor die skuiling vir hawelose siele wat my twee maal laat dink het. Hoeveel keer was ek verdwaal en verdwaas en kon ek net in my ma skadu rus? Te veel om te tel. Die dogter wat geduldig die kombersie oor haar ma se knieë trek, seker ook.

My ma en die Tannie met die diep lyne is albei getuies van lewe en getuies van dood. Daar is wysheid in hul stamme, stories wat hulle al vergeet het. Hulle is duidelik albei geteister deur storms. Hulle moes veg om te kon klou aan hul vrugte. Hulle moes  ʼn tak of twee verloor. Hulle albei se liggame verklap dat hulle ook soos die boom in Stella se liedjie kan sê dat hulle laaste dag dalk net om die draai is… Tog gee hulle steeds elke dag wat hulle kan al is dit soos die Stella-boom soms net ʼn klein skadu.

Die treffendste deel  van die liedjie is egter die durf wat die ou boom, my ma en die Tannie deel. Ten spyte van chemo en die feit dat sy onlangs haar man verloor het, hou my ma dapper aan lewe. Leer nuwe dinge, koester weer ou vriendskappe. Die ou tannie, durf die mall aan vir ʼn melkskommel en ʼn uurtjie langer saam met haar dogter. Hulle sing dus ook soos die boom, dat hulle nog nie dood is nie, die winde kan kom…

Ek het net hierdie wysheid onder die knie, toe stop my ma by my en sê (in soveel woorde, sonder om te weet van my ding onlangs met bome) dat sy net so rukkie in my skadu wil kom rus… en ek is stom geslaan. Wanneer het hierdie klein stegie ʼn boom geword? Wanneer het ek gegroei van iemand wat toegedraai moet word met rypkleed tot iemand wie se takke skuiling kan bied teen ander se storms?

Ek weet nie. Maar skielik is dit so.

Miskien is dit omdat ek elke jaar bid dat my kinders sal wees soos bome wat geplant is langs strome van lewende water dat die seëning my beval het. Miskien is dit omdat ek net eenvoudig geplant is. Maar ek is nou die appelkoosboom wat moet vrugte dra sodat ander die soet in die lewe kan smaak. Dit gaan kook en suiker verg, maar dit gaan so wees. My ma het haar vrugte gedra en in haar oudag gun ek haar en die tannie in die rolstoel, dieselfde vrede wat die perskeboom in die hoek van die erf het… My dogter is die suurlemoenboom en ek weet haar geur sal ander gelukkig maak.

En as hierdie boom vanaand nog iets kon sê?

Wel, my wortels lê diep…

Liefste Didi

Liefste Jonger Ek,

Vandag wil ek vir jou ʼn brief skryf omdat ek besef dat ek soveel lesse geleer wat ek graag sou wou hê jy moet weet op 18.

Die belangrikste les is, jy is okey en daar is soveel mense wat jou opreg liefhet! Jy het glad nie nodig om dit te gaan soek nie, die mooiste verhoudings kom van self. Waardeer hierdie verhoudings, want hulle gaan nie noodwendig altyd by jou wees nie.

Kyk My Fair Lady, Student Prince en Sound of music nog ʼn paar keer saam met jou ouma en eet nog ʼn koeksister saam met jou oupa – binnekort gaan jy vreeslik na hulle verlang. O ja, kry asseblief by jou oupa die resep vir sy tamatiekonfyt en leer hoe om ʼn vrugteboom te ent.

Ry meer gereeld agter op die bakkie saam met jou pa plaas toe en gaan doen meer inkopies saam met jou ma – al maak sy jou boos. Een van die dae gaan jy te besig wees daarvoor en dan gaan jy wens jy het dit nou gedoen. Jy gaan ook meer begrip hê vir ma-wees en dan regtig stupid voel oor jou optrede.

Deel sonder skroom jou hart en vrese met die mense die naaste aan jou – hulle sal altyd verstaan en altyd jou kant kies… Moenie mense in jou lewe toelaat wat jou anders laat glo nie. Moet egter nie almal se opinie volg nie – volg jou hart, dit is regtig baie sterker as wat jy glo.

Geniet daai eerste soen met iemand spesiaal, hou vas aan die vreugde van net hande vashou en tyd saam spandeer. Jy gaan dit oor tien jaar baie mis. As ʼn ou vir jou sê jy is nie die lekkerste soen wat hy al ooit gehad het nie, los hom dadelik – hy het duidelik nie waardering vir jou nie. Op daardie punt – moet nooit jammer sê vir die passie waarmee jy liefhet nie – min mense kan sê hulle het met hul hele wese lief – dit maak jou uniek en spesiaal. Weereens, raak ontslae van die mense wat dit nie raaksien en met dankbaarheid aanvaar nie.

Ek wil ook hê jy moet weet dat jou ontsaglik baie talent het – jy is ook soveel sterker as wat jy dink. Moenie toelaat dat dit verlore gaan nie. Harde werk is altyd die moeite werd. Doen wat jy moet, al is dit nie lekker nie, jy sal die vrugte pluk. Aan die ander kant moet jy weet as die deure nie oopgaan nie, was dit nie jou deur nie.

Wees dapper, jong Didi. As jy nou opstaan vir waarin jy glo sal jy jouself baie toekomstige seer spaar. Droom Groot en jaag dit na. Onthou jou kleintyd wense en drome, jy mag dit steeds wil hê. Onthou asseblief dat jy in niemand se boksie hoef te pas nie – jy mag egter van niemand anders verwag om dit te doen nie.

Sit jou selfoon af. Ek weet dit is nuut en opwindend, maar oor agtien jaar gaan jy daardie stukkie tegnologie verwens. Neem meer foto’s. Een van die dae gaan jy dit met jou selfoon kan doen – geniet dit en stoor dit van die begin af op ʼn plek waar jy dit altyd sal hê.

Moenie daardie middernag-oproep maak nie. As hy jou mis, sal hy jou bel, en dis vrek lekker. Luister as iemand vir jou sê hoe hulle voel, luister dieper na dade – dit spreek altyd harder en eerliker. As jy voel jy is leeg, loop. Jy kan nie skink uit ʼn leë koppie nie. Moenie langer bly as wat jy welkom is nie.

Hou op jammer sê. Jou hart, siel en liggaam is ʼn tempel van die Allerheiligste God en Hy wil lewe in jou vreugde – wees dus goed vir jouself.

Hou aan met die sonskerm en die Bio-oil. Eet gesond, maar lekker. Dans. Dans. Dans… dit maak jou gelukkig en sal altyd doen.

Dra daai sexy broek met selfvertroue – jy is ongelooflik mooi gebou.

Sê meer dankie. Wys meer jou dankbaarheid.

Laaste maar nie die minste nie – leef voluit! Ek belowe om jou vir niks te verwyt nie.

Liefde

Die ouer jy

PS: Ek is bitter lief vir jou

 

 

 

Aspoester

As jong dogtertjie was daar nie een enkele Disney-fliek wat ek nie gekyk en weer gekyk het nie. Soos elke ander jong meisie was daar een prinses wat my laat droom het en een prins wat my laat liefhê het.

Aspoestertjie was beslis nie daardie prinses nie… Daar is verskeie redes hoekom hierdie karakter my op my rype ouderdom steeds ʼn pyn in my alie gee. Snaaks genoeg,  die hoofrede het niks te doen met die feit dat sy blond is nie, die rede is: EK IS ASPOESTER!

Oornag het ek verander in die een prinses wat ek nooit wou wees nie. Die hemel weet ek het hard geveg teen die verantwoordelikhede van huis skoonmaak en wasgoed was. Maar ek bevind myself al hoe meer met die besem in die hand en die vadoek oor my skouer.

Daar is egter dinge in die oorspronklike sprokie wat nie in my lewe strook nie! Byvoorbeeld die muisies in my huis, weet nie hoe werk ʼn naald en gare nie. Indien een van hulle met ʼn nuwe T-hemp (branded nogal) plaas toe gaan en die ding skeur, is dit nou maar so. En moenie dink hulle stemmetjies is fyn, of dat hulle in sang uitbars as daar gewerk moet word nie – nee, ʼn oggend saam met my twee muisies laat jou eerder dink jy het nou met die stiefsussies te make.

Dan is daar die Fairy Godmother, in my geval is dit koffie en as sy te hard werk protesteer die gal en lewer en sommer die brein ook. Daar is nie meer glamorous rokke nie, want daar is nêrens om dit heen te dra nie en die glasslippertjies is heeltemal te onprakties vir ʼn ma van twee wat eendag lank lank gelede haarself belowe het om betrokke te wees by alles.

Wat my egter die meeste vang van hierdie Aspoester-bestaan is die stukkies van myself wat ek op ʼn fluweelkussing aan ander bied. Ek het vergeet hoe om nee te sê, hoe om logies na my dagboek en finansies te kyk en te besef dat ek net nie kan nie. Maar die ergste is die stukkies prinses wat wegkwyn onder die druk van hierdie bestaan. Ek het my inner-Belle wat wou lees en lees begin ignoreer, ou Aurora wat soveel slaap nodig gehad het, word tans onderdruk en die Ariël met haar verwondering oor ander wêrelde het nie ʼn stem nie…

Maar daar is moderne prinsesse. Daar is Merida in Brave wat kan baklei soos ʼn ma en Elsa van Frozen met die ontsagwekkende wysheid dat ons dit soms net moet laat gaan. Dalk in hierdie seisoen van my lewe sal ek identifiseer met hulle…

Tog is en bly my lewe ʼn sprokie, ongeag die begin, of hoe? En vanaand, as ek moeg die besem parkeer en die vadoeke in Jik laat lê gaan kruip ek agter my prins in en kan ek droom van die liefde wat Disney sou beny.